VOLGENDE Suidplaas Dohnes Produksieveiling

SUIDPLAAS PRODUKSIEVEILING

in-PERSOON EN AANLYN VEILING

Die jaar stap fluks aan en kort voor lank kuier ons weer op Klipbankskloof by Suidplaas se Augustus-veiling. Merk solank u dagboek vir Woensdag, 7 Augustus 2024 – ons sien uit om u weer op Protem te verwelkom.

Ten spyte van wisselvallige vleis- en wolpryse, glo ons steeds dat vinnige genetiese vordering baie belangrik is vir produktiewe en winsgewende skaapboerdery. SUIDPLAAS DOHNES is vanjaar reeds 52 jaar besig om hierdie genetiese vordering vir sy kliënte na te streef.

Elke seisoen op die plaas bring sy eie uitdagings en lesse, maar een ding word keer op keer aan my bewys: Die belangrikheid van genetiese vordering in jou boerdery kan nie oorskat word nie.

Op die veiling bied ons die beste ramme aan wat normaalweg nasionale veiling toe sou gaan, so dis die ideale geleentheid om Suidplaas se topklas-genetika by jou kudde te voeg.

WAT LÊ VOOR BY DIE AUGUSTUS-VEILING?

Suidplaas is trots op die gehalte-naam wat ons oor dekades opgebou het, en hierdie veiling sal geen uitsondering wees nie. Ons sal weer slegs die top 20% van die getoetste groep ramme beskikbaar stel, sodat u verseker kan wees van die uitstaande gehalte op aanbod.

Vanjaar bied ons 100A + AA ramme (JG) asook 200 jong ooitjies aan by die veiling. Alle ramme sal vrugbaar en vry van geslagsiektes gesertifiseer wees op die dag van die veiling. Ramme is ook ingeënt teen Bloutong en Rev1.

Daar sal ook weer geleentheid wees om die diere vooraf te besigtig, of op die dag van die veiling, of vooraf gereël. Besoek ons, of stuur u veldbeampte, om die diere behoorlik vooraf te evalueer en die regte keuse by die veiling te verseker. U kan met my of Pieter Groenewald ’n reëling tref.

 

Onthou ook ons aanlyn veiling…

 Soos gewoonlik sal die veiling in-persoon gehou word, maar ook regstreeks aanlyn plaasvind. As u dus nie op die dag van die verrigtinge by ons kan aansluit nie, sal die veiling-katalogus (vooraf reeds op die webwerf beskikbaar) en beelduitsending van die diere op die rostrum u in staat stel om aanlyn te bie.

Die besigtiging vooraf is veral belangrik vir diegene wat aanlyn wil bie. Let wel dat dit noodsaaklik is om vroegtydig as aanlyn koper te registreer as u van plan is om van hierdie platform gebruik te maak. Meer inligting hieroor sal later bekendgemaak word.

Tree gerus met my (082 550 1242) of Pieter Groenewald (0769 681 0342) in verbinding met enige navrae.

Verdere besonderhede – en die jongste Suidplaas-nuus – is op ons webblad beskikbaar: www.suidplaasdohnes.co.za

Hou gerus u inboks dop vir die volledige veiling-katalogus oor die komende weke.

Die voortuitgang van die Dohne-ras lê ons almal na aan die hart. Ek nooi u dus uit om nie net by ons aan te sluit vir die topklasdiere nie, maar ook vir die uitmuntende geselskap en waardevolle wysheid wat ons mede-boere so graag deel. Só ’n dag in die Overberg beloof mos geselligheid!

Warm Dohne-groete.
Wynand du Toit

Wynand du Toit

  082 550 1242
  028 425 1625
  wynand@suidplaasdohnes.co.za
  Posbus 4, Protem, 7281
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes