Die moderne wolboer
DOHNE MERINO, BOERDERY | Julie 6, 2024
Deur Jacques le Roux, Hoofbestuurder: Wol en Bokhaar (OVK)
Ons bevind ons in ‘n wêreld wat skielik verander het, spesifiek tegnologiese ontwikkeling het van die wêreld ‘n klein plek gemaak met inligting wat vinnig bekombaar en maklik toeganklik is.
Hierdie feit, tesame met wêreldgebeure die afgelope dekade het ‘n omgewing geskep waar die globale gemeenskap anders dink oor hul plek en anders kyk na produksie en gebruik. Veral die Covid pandemie het hierdie globale kopskuif verhaas en mense se fokus op gesondheid vir hulself en die omgewing verskerp.

Teen hierdie agtergrond moet landbouers wêreldwyd meer en meer begin let op die manier waarop produkte produseer word om aan te pas by ‘n groeiende vraag na volhoubaarheid en naspeurbaarheid – dit is natuurlik nie heeltemal nuut of onbekend nie, vra maar enige vrugteboer in Suid-Afrika.
Ons is nou in ‘n post-RWS fase
Vir die kommersiële wolboer het hierdie vereistes ook ‘n werklikheid geraak sedert min-of-meer 2016 met die aankoms van Textile Exchange se RWS (Responsible Wool Standard) ouditstandaarde in Suid-Afrika. Sederdien is die RWS-standaard ontwikkel en uitgebou en het verskeie soortgelyke standaarde tot stand gekom in die vesel bedryf. Tans bevind ons, ons egter in ‘n soort van post-RWS fase en word daar op die oomblik meer en meer gefokus op ontwikkeling van standaarde ten opsigte van herwinbare boerdery praktyke sowel as koolstof-emmissie neutrale praktyke.
Spesifiek in Europa is daar ‘n groot klem op bogenoemde nuwe ontwikkelings met die Europese Unie se implementering van ‘n sogenaamde “Green Deal” ingevolge waarvan hulle poog om koolstof emmissies met 55% te verminder teen 2030 en teen 2050 koolstof “neutraal” te wees. Hierdie “Green Deal” is sedert 2019 vervat in wetgewing ingevolge waarvan streng vereistes aan industrieë in Europa, maar ook op produkte wat daar verhandel word, gestel word, en dit is hier waar die effek deur verskaffers van produkte aan die Europese Unie gevoel gaan word.
‘n Groot gedeelte van ons Suid-Afrikaanse skeersel eindig op in Europa, spesifiek ook indien dit wol is wat gebruik word vir maak van klere. Die nuwe sosiale-gewetens gedrewe vereistes deur die verbruiker, sowel as die nuwe wetgewing in Europa het daartoe gelei dat alle groot en bekende klere (en ander veselprodukte) handelsname skielik absoluut daarop fokus om slegs veselprodukte aan te koop wat gekoppel is aan een of ander kredietwaardige volhoubaarheidstandaard.
WOL
Dit is in hierdie omgewing waarin die moderne boer moet wol produseer.
Dit bring mee dat die moderne boer sy boerdery praktyke spesifiek moet aanpas om te kan antwoord op die nuwe vereistes maar ook absoluut seker te wees van sy winsgewendheid.

Hier word spesifiek
verwys na:
1. Wetenskaplike metingsmetodes van jou kudde en elke individuele dier ten einde produksie te optimaliseer,
2. deelname aan ‘n (of selfs meer as een) spesifieke, relevante en internasionaal aanvaarde volhoubaarheidstandaard – wat natuurlik kan insluit herwinbare landbou en of koolstof-neutrale ouditstandaarde,
3. deelname aan ‘n kredietwaardige, internasionaal aanvaarde naspeurbaarheidstelsel,
4. digitalisering van inligting en rekordhouding op die plaas, en
5. bou jou “brand” – spesifiek gekoppel aan ‘n “mooi” produksie storie

Vandag, meer as ooit tevore is dit vir die boer belangrik om te besef dat die bemarking van wol ‘n industrie poging gaan verg, gekoppel aan doel-gedrewe, wetenskaplike boerdery metodes. Vir die wolboer is dit noodsaaklik om in vennootskap te boer met ander rolspelers in die bedryf wat net so hard soos die boer veg vir die volhoubare voortbestaan van die bedryf en die winsgewende bemarking van die boer se produk.
Die vraag op die oomblik is natuurlik wat die toekoms inhou vir wolpryse. Uiteraard is die huidige swak pryse uiters negatief vir enige boer se aptyt om geld te spandeer aan ontwikkeling van nuwe stelsels waar daar reeds gesukkel word om te oorleef.
Ons verwag dat wolpryse sal verbeter
Wolpryse word hoofsaaklik gedryf deur die handel tussen Australië (die grootste produsent) en Sjina (die grootste invoerder) van wol globaal. Die nagevolge van Covid, wat gelei het tot negatiewe binnelandse produksie syfers in Sjina, gekoppel aan inflasie gedrewe ekonomiese insinking in Europa, veroorsaak die huidige prysdruk op wol. Dus kan ons verwag dat wolpryse sal verbeter in ooreenstemming met verbetering in die ekonomie van beide Sjina asook die Weste in die algemeen.
In hierdie opsig wys internasionale aanwysers op positiewe tekens in terme van inflasie wat besig is om te daal wêreldwyd en produksie syfers wat gaandeweg besig is om te verbeter. Aanduidings is ook dat rentekoerse wêreldwyd behoort te begin daal binne die bestek van die volgende ses- tot twaalf maande, wat natuurlik produksie en verbruik sal aanmoedig.

Goeie wol gaan in groot aanvraag wees
Ter afsluiting kan ek noem dat ek van opinie is dat goeie, merino-tipe wol in groot aanvraag gaan wees in die afsienbare toekoms. Ek baseer hierdie opinie op die feit dat natuurlike vesel beter is vir die mens sowel as die omgewing wanneer dit vergelyk word met fossilebrandstof-baseerde vesels, waarvan die meeste klere huidig vervaardig word. Hierdie feit, gekoppel aan die sosiale-gewetens vereistes van die verbruiker waarna hierbo verwys word, behoort te lei tot ‘n groter vraag vir natuurlike vesel produkte, waarvan wol verreweg die belangrikste en grootste diere-vesel is.
U is welkom om my direk te kontak indien u enige navrae het, of natuurlik ook u plaaslike OVK wol beampte vir meer inligting oor hoe OVK u kan help met advies of dienste ten opsigte van enige volhoubaarheidstandaarde asook wetenskaplike metingsdienste.

Jacques le Roux
Hoofbestuurder: Wol en Bokhaar (OVK)
e-pos: jacqueslr@ovk.co.za | sel nr: 082 333 7973

Wynand du Toit
082 550 1242
028 425 1625 wynand@suidplaasdohnes.co.za
Posbus 4, Protem, 7281
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes

Wynand du Toit
082 550 1242
028 425 1625
wynand@suidplaasdohnes.co.za
Posbus 4, Protem, 7281
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes