‘DIE PLAAS IS DEEL VAN MY MENSWEES’

DOHNE MERINO, FARMING  |  May 30, 2024

ONTMOET ’N DOHNEBOER VAN MOSSELBAAI

Ilza Pienaar gesels oor haar ervaring as vrou in die landbouwêreld, haar voorkeur vir die Dohne-ras en hoe Suidplaas-gene haar kudde versterk.

As gebore en getoë Mosselbaaier, is 27-jarige Ilza Pienaar die vierdegenerasie-boer op haar familieplaas in die Kleinberg-distrik.
“Ek was bevoorreg om op die plaas groot te word. Dit was en is deel van my menswees vandat ek kan onthou. As ek middae na skool by die huis gekom het was ek buite besig of saam met my pa in die bakkie tussen die vee.”

Toe sy in 2017 voltyds terugkeer plaas toe, was sy gereed om die boerdery en al sy uitdaging aan te pak.

“Ek het nooit amptelike opleiding ontvang nie, maar deur my grootwordjare en die leiding van my pa – en heelwat lees en navorsing – het ek baie kennis verwerf. Ek het ook intussen my B.Rek-graad deur Unisa bekom, en adviseurskursusse en ’n Springbokkop-wolklaskursus voltooi.”

Alhoewel Ilza grootgeword het met Merino’s op die plaas, het sy die Dohne-ras leer ken toe haar pa destyds ’n vriend se skape oorgekoop het.
“Al maak Merino’s se wol my opgewonde, is die dubbeldoelras van die Dohne en hul aanpasbaarheid vir my meer aanloklik,” sê sy.

Ilza het onlangs haar eie besigheid, Lizara, gestig om meer intensief en onafhanklik met die ras te boer.

“Met vandag se ekonomie en die wol- en slagpryse wat baie wissel, is die Dohne hoog op my lys, omdat dit twee inkomstes verseker. Nie net floreer die Dohne in ons omgewing nie, maar met hul goeie bouvorm wat baie vleis dra tel hulle vinniger gewig op. Dit lei uiteindelik na ‘n lam wat op ’n jonger ouderdom markgereed is. En met wol waarvan die kwaliteit baie verbeter het oor die jare, is dit ‘n mooi prentjie om daagliks na te kyk.”

Die waarde van aanpasbaarheid

In haar sewe jaar op die plaas het sy ook die waarde van aanpasbaarheid geleer. Omdat dinge op die plaas konstant ontwikkel en verander, leer sy nog elke dag.

“In die Mosselbaai-distrik is daar nie baie Dohne-boere nie, daarom is dit ’n uitdaging om Dohnes van hoë gehalte in die hande te kry. Die produksieveilings is min en ons moet ver reis vir ramme en ooie.”
Sulke uitdagings word oorkom deur goeie navorsing, glo Ilza.

“Praat met boere oor hul ondervindings en ervaring met die ras, en vind uit waar om ramme en ooie aan te koop om aanpasbaarheid in ons omgewing te verseker. Maak ook seker om binne jou begroting goeie genetika te kies, met die oog daarop om met ‘n klein kudde stadig maar seker ’n goeie kudde op te bou.”

Met die vooruitgang van haar kudde as doelwit, het Ilza onlangs ’n paar stoetooie by Suidplaas aangekoop.

“Oom Wynand het spesiaal van sy jong stoetootjies vir my aangebied, wat ’n groot voordeel vir my boerdery is ten opsigte van genetika. Hy teel hoëgehalte-ramme wat bydra tot die verbetering van my kudde. Hy is ook iemand na wie ek opkyk as ’n goeie voorbeeld van hoe om suksesvol te boer. Ek leer baie uit die raad wat hy op sy blogs deurgee, en hy aanvaar en respekteer my as ’n vrou in die boerdery – iets wat vir my belangrik is.”

‘n Vrou in die landbouwêreld

Ilza moes al op die harde manier leer dat vroue nie altyd met ope arms in die landbouwêreld verwelkom word nie. ’n Mens moet soms die ekstra myl stap om jouself te bewys.

“Dis beslis nie die maklikste beroep om in te wees as ’n vrou nie. Menige mense sal twyfel in jou vermoë en kennis. Jy moet heeltyd op hoogte bly van die bedryf, baie harder werk en met selfvertroue saampraat. Ek spring ook maklik in om, byvoorbeeld, te help draadspan, skaapvang of in die middernag skaapdiewe te vang – hierdeur kry jy ook die respek van jou werknemers.”

Sy bevind haar ook soms in situasies waar sy mense se vooroordeel moet weerlê:
“Ek het onlangs by ’n skou na voerbakke staan en kyk, en aan die verkoopsman se reaksie kon ek dadelik agterkom hy dink nie ek is by die regte plek nie. Ek het hom gou verkeerd bewys met my kennis en ervaring, en met ’n skok het hy besef hy het dalk te vinnig geoordeel.

“Die wêreld het al só gegroei, maar mense is steeds verbaas om vroue op die plaas te sien. My hoop is dat meer mense met die verloop van tyd ’n vrou sal respekteer in die landbou-omgewing en haar sal erken as ’n boer.”

Wynand du Toit

  082 550 1242
  028 425 1625
  wynand@suidplaasdohnes.co.za
  Posbus 4, Protem, 7281
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes

Wynand du Toit

  082 550 1242
  028 425 1625
  wynand@suidplaasdohnes.co.za
  Posbus 4, Protem, 7281
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes