Elke druppel tel: Watersekerheid vir veeboere

DOHNE MERINO, FARMING  |  APR 20, 2023

Skoon en veilige water is ’n kosbare hulpbron wat al skaarser word in ’n tyd van versnelde klimaatsverandering.

Boonop laat swak dienslewering en verouderde infrastruktuur boere kopkrap oor innoverende maniere om onafhanklik in hul waterbehoeftes te voorsien. Suidplaas-eienaar Wynand du Toit deel raad om genoeg water vir die droë seisoen te verseker.

Water is lewe, en is vir alle boere kernbelangrik. 

Vir veeboere beteken skoon varswater ’n gesonde en sterk kudde. Sonder betroubare toegang hiertoe, kan ’n plaas vinnig ’n krisis in die gesig staar.

Vir Suidplaas Dohnes het 2022 reeds gedien as ‘n voorloper van dinge wat voorlê: die plaas het die laagste reënval ooit in twee generasies beleef.

Talle boere in die Overberg sukkel boonop die afgelope maande met gebrekkige watervoorsiening aan hul plase. Die infrastruktuur is al dekades gelede gelê, maar wanbestuur aan die waterverskaffer, Overberg Water, se kant beteken dat die kosbare liters waarvoor die boere maandeliks betaal nooit in hul pype en waterkrippe beland nie.

In die verlede het boere ’n sekere watertoekenning per hektaar ontvang. Deesdae kan boere egter vra vir die hoeveelheid water wat hulle per dag nodig het, en maandeliks daarvolgens ’n vaste maandelikse fooi betaal. In ruil het boere toegang tot soveel water as wat hulle nodig het vanuit Overberg Water se pype, binne hierdie hoeveelheid.

DRAAI DIE KRAAN OOP

“In die verlede kon jy net ’n kraan oopdraai en al die waterkrippe was direk gekoppel op die hoofwaterlyn wat van Overberg Water af kom,” sê Wynand. Dit is egter nie meer die geval nie. “Ons kry nie die water nie. Dis die probleem: Hulle kan nie vir ons die water voorsien nie, maar hulle bring ook nie ons rekeninge af nie.”

Boerdery om water gevorm

Water speel op elke plaas ’n kritieke rol, en die Overbergse veeboere het oor die dekades hul boerderymetodes aangepas afhangende van die beskikbaarheid van skoon water.

Wynand sê: “Ons ondergrondse water in die Rûens is van baie swak gehalte. Jy het goeie kwaliteit water nodig vir ’n goeie besetting by jou skape, en vir groei in jou voerkraal. Swak kwaliteit water het baie negatiewe uitwerkings op groei en vrugbaarheid.”

Die plaaslike landbougemeenskap was ’n groot dryfveer agter die totstandkoming van die Overberg Waterskema jare gelede, omdat daar ’n behoefte was aan betroubare toegang tot varswater.

“Die Overberg Waterskema het destyds ingekom en geleenthede vir ons geskep, maar nou sit ons met ander moeilikheid by hulle.”

Volgehoue hoë fases van beurtkrag – tesame met die duur koste van brandstof vir kragopwekkers – en verouderde infrastruktuur is die hoofredes wat deur Overberg Water aangevoer word vir die huidige gebrek aan dienslewering.

Die implikasie van hierdie verlaagde en wisselvallige waterbeskikbaarheid in plase se pyplyne, is egter reeds tasbaar vir talle boere.

Wynand sê: “Baie ouens het baie skape minder gemaak, want hulle kry nie genoeg water nie. En die hele Overberg het vandat die skema hier gekom het baie meer vee begin aanhou as gevolg van die feit dat ons water gehad het.”

Wynand se wenke

Om hierdie uitdaging te oorkom, sal boere daarop moet fokus om self-onderhoudend te word en afstand te doen van Overberg Water. Aangesien boere in die somer meer water benodig, stel Wynand voor dat hulle meer opgaartenke installeer om water te stoor vir die warmer maande.

“My raad is dat jy in die winter, wanneer die hele Wes-Kaap minder water gebruik, die water moet kan opstoor,” sê hy. “En die water wat ons het, sal ons baie mooi moet bewaar, want ek glo dit is die volgende ding wat ’n krisis gaan word in Suid-Afrika. Dis reeds ’n kwessie in ander dele van die land waar daar nie onderhoud gedoen word nie.”

Om seker te maak geen water gaan verlore nie, kan boere ook hul pype en krippe nagaan vir enige lekplekke wat herstel kan word. Die gestoorde water kan ook bewaar word deur deksels op opgaartenke of -damme te bou.

“Ons veeboere sal dit net moet hanteer en bestuur. Waar ons nie riviere, damme en groot opgaardamme het nie, sal ons moet begin om elke krieseltjie water te bewaar,” sê Wynand. “So jy sal jou afleislote en gronddamme in plek moet kry sodat jy kan water hê in die somer – wanneer jy regtig water nodig het. Want ons kan nie staatmaak op Overberg Water om vir ons die water te voorsien nie.”

Wynand du Toit

  082 550 1242
  028 425 1625
  wynand@suidplaasdohnes.co.za
  Posbus 4, Protem, 7281
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes

Wynand du Toit

  082 550 1242
  028 425 1625
  wynand@suidplaasdohnes.co.za
  Posbus 4, Protem, 7281
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes