Gewensde Dohne-bouvorm: Só lyk ’n topram

DOHNE MERINO, FARMING  |  Jul 17, 2023

Met die Augustus-veiling om die draai, is dit belangrik om te weet waarvoor jy moet uitkyk in die seleksie van ’n ram. Suidplaas-eienaar Wynand du Toit deel die belangrikste fisiese eienskap van ’n goeie ram.

Om ’n ram te kies, is ’n belangrike besluit, want jy kies ook die eienskappe van jou kudde se volgende geslag.

Hiervoor is ’n sterk en gesonde stoetvaar nodig – een wat sommer met die eerste oogopslag ’n goeie indruk maak.

By die Suidplaas-veiling stel Wynand topgenetika deur sy ramme beskikbaar, maar kopers moet weet watter eienskappe gewensd is vir die ras om hul seleksie te maak.

Met jare se ervaring, raak ’n mens goed vertroud met die fisiese eienskappe van ’n goeie Dohne-ram, sê Wynand. Deur hand-en-oog-seleksie, kan die sterkste skape vroeg reeds aan hul bouvorm uitgeken word, sonder om na syfers te kyk.

Die maatstawwe waaraan ’n ram se waarde gemeet word, verskil van land tot land. Volgens Wynand: “In Australië word daar, byvoorbeeld, na die sogenaamde muscle depth gekyk, maar dit is nie vir Suid-Afrikaanse telers so belangrik nie.”

Boere se voorstellings van die ideale ram lyk ook verskillend. Maar daar is tog sewe basislyneienskappe waarna ’n mens behoort te kyk wanneer jy ’n ram uitsoek, meen hy:

1. Toplyn

Kyk uit vir ’n reguit rug wat nie hol is nie en dat die skouers nie te veel beweeg as die ram stap nie.

2. Bene

Bene wat dik en sterk is, is ’n aanduider van n sterk robuuste dier met goeie genetika. Die plasing van die bene moet ook reg wees, m.a.w. direk onder die lyf. Maak ook seker die bene is nie krom nie.

3. Bors

’n Ram met ’n lekker breë bors is een wat jy by jou kudde behoort te betrek.

4. Gat of “behind”

Dis belangrik dat die ram se agterent diepte en breedte het. ’n Smal, plat gat is ongewensd, maar ’n ram met genoeg vleis in sy boude sal vir jou meer vleis teel.

5. Diepte van lyf

Dit verwys na die afstand van die ram se rug tot by sy maag. Jy wil nie ’n lang, dun skaap selekteer nie, so vermy ramme met ’n silindriese liggaamsvorm.

6. Breedte van lyf

Dit verwys weer na die afstand oor die breedte van die skaap se rug. Hier is dit weer eens belangrik om te kyk dat jy nie ’n silindriese skaap selekteer nie. ’n Breë skaap sal met die eerste oogopslag stewig lyk.

7. Testes

Die grootte van die testes is ’n goeie aanduider van vrugbaarheid. Maak seker die testes is groot genoeg en ferm, en die omtrek ten minste 32cm is.

“Dit is die basiese dinge waarvoor jy moet kyk,” sê Wynand, “maar onthou dat bouvorm alleen nie ’n goeie ram maak nie. Wolkwaliteit en vrugbaarheid vorm ook deel van die gene wat tot jou kudde toegevoeg word, so maak seker die ram voldoen aan jou behoeftes en kyk na sy BLUP-syfers.”

Volgende Suidplaas Produksieveiling:
 9 Aug 2023

Sien jou daar!

Wynand du Toit

  082 550 1242
  028 425 1625
  wynand@suidplaasdohnes.co.za
  Posbus 4, Protem, 7281
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes

Wynand du Toit

  082 550 1242
  028 425 1625
  wynand@suidplaasdohnes.co.za
  Posbus 4, Protem, 7281
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes