Gewensde woleienskappe vir jou Dohnes
DOHNE MERINO, WOL | Nov 21, 2023
As dubbeldoel-skaapras, is Dohne Merino’s gesog vir beide hul vleis én wol.
Maar watter eienskappe behoort boere en telers in ag te neem om topgehalte-wol te verseker? Suidplaas-eienaar, Wynand du Toit, deel die faktore waarna hy kyk om die kwaliteit van sy wol te assesseer:

1. Lengte
Lengte is die hooffaktor waarvolgens wol geassesseer word. “Hoe langer ons die wol kan groei, en hoe korter die tydperk waarbinne dit gebeur, hoe beter,” verduidelik Wynand. “Op Suidplaas poog ons om ’n B-lengte (60 – 70mm) in ses tot sewe maande te groei.”
2. Veseldikte
Die dikte van die wolvesels word in mikron gemeet – ’n eenheid gelyk aan 0,001 mm. Boere probeer om hul mikron so laag as moontlik te hou sodat die wol nie te sterk is nie. Dunner wolvesels voel ook sagter en bied beter isolering as dik wol, wat dit aantreklik maak vir kopers in die tekstielbedryf.
“Op Suidplaas probeer ons om die wol rondom 18 mikron te hou,” sê Wynand.
3. Kleur
Omdat wol meestal gekleur word tydens verwerking, is dit belangrik dat die rou produk so min kleur as moontlik het. Donker wolvesels word nie in Dohne-wol toegelaat nie.
“Dis dus vir ons belangrik dat die wol heeltemal wit is. Dit moenie oorheel na liggeel of -bruin nie,” sê Wynand.
4. Kartel
Die kartel van die wol verwys na die rimpeling in die wolvesels, en word ook die “krimp” genoem.
“Balans is hier belangrik,” meen Wynand. “Ons soek nie ’n krimp wat té breed is nie, want dan is die wol geneig om te sterk te wees. Maar ons soek ook nie té fyn krimp nie, want dan is die wol gewoonlik korter.”
Hoe lyk die ideale Dohne-wol op Suidplaas?
Wynand en sy span streef voortdurend daarna om ’n konstante en hoë gehalte met hul wol te handhaaf. Vir hom het die ideale wol dus ’n mediumkrimp en goeie lengte, met ’n laer mikron en ’n wit kleur.

’n Trappie bo die res
’n Verdere stap wat kopers verseker van die gehalte van jou wol en ’n premie op jou produk stel, is voldoening aan die internasionale Verantwoordelike Wolstandaard (Responsible Wool Standard of RWS).
Dié gehaltemerk waarborg kopers dat jy jou diere goed hanteer, jou grond en natuurlike biodiversiteit reg bestuur en maatskaplike verantwoordelikhede nakom.

“Suidplaas is in 2019 reeds by die RWS gesertifiseer, want ons beskou dit as ons verantwoordelikheid om te bewys dat ons boerderypraktyke volhoubaar is,” sê Wynand. “So kan boere ook verbruikers aanmoedig om wol te kies wat verantwoordelik geproduseer word.”

Wynand du Toit
082 550 1242
028 425 1625 wynand@suidplaasdohnes.co.za
Posbus 4, Protem, 7281
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes

Wynand du Toit
082 550 1242
028 425 1625
wynand@suidplaasdohnes.co.za
Posbus 4, Protem, 7281
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes