Goeie gene en ramseleksie: Swartsdam Plaas deel dohne-wenke

DOHNE MERINO, FARMING  |  June 5, 2023

Jaco Schoonwinkel gesels oor die belangrikheid van goeie gene en ramseleksie, en die bydrae van Suidplaas Dohnes tot Swartsdam se kudde.

Broers Jaco en Arno Schoonwinkel is die trotse vyfde generasie wat boer op Swartsdam Plaas, net buite Swellendam. Hulle bedryf deesdae ’n gemengde boerdery van 800 jersey-melkkoeie, 3 500 dohnemerino-ooie, ’n verskeidenheid graansoorte, en varke op kleinskaal.

Die twee broers boer vandag saam met hul pa, Jan, wat vroeër hoofsaaklik met vleismerino’s geboer het. In die vroeë 1990’s het Swartsdam die dohnewêreld betree.

Jaco vertel: “Ons het eers dohnemerino-ramme op die vleismerino-ooie gesit, en die skape só geteel tot hulle later suiwer dohnes geraak het. 

Ons het ook op ’n stadium 1 000 suiwer dohnemerino’s ingekoop, maar ons het dit hoofsaaklik gedoen omdat die inkomste van die wol destyds te min was. My pa sê die skeerkoste was meer as wat hulle vir die vleismerino’s se wol gekry het – en hulle moet geskeer word. So die oorgang het maar gebeur omdat die dohnemerino ’n dubbelboelras was.”

Om die gunstige eienskappe in hul kudde te bewaar en bevorder, was dit deur die jare kernbelangrik om hoëgehalte gene te selekteer. Hiervoor, reken Jaco, was Swartsdam se verhouding met Suidplaas Dohnes van kardinale belang.

“As jy na ’n veiling gaan om nuwe ramme te koop, gaan jy heel eerste fisies na die ram kyk, en dan kyk jy na sy syfers,” sê Jaco. Die fisiese eienskappe wat met besigtiging nagegaan kan word, ook bekend as ‘hand-en-oog’, sluit faktore soos bouvorm, wollengte en wolkwaliteit in. Syfers verwys onder meer na statistiek rondom die ram se liggaamsmassa, of sy wol se vagmassa, mikrons en skoonopbrengs.

’n Gehalteram is dus sterk in hand-en-oog én syfers, verduidelik Jaco: “Oom Wynand is die persoon wat goed is in albei: Sy ramme lýk goed en sy syfers is ook baie goed. Baie ander mense se ramme is goed op hand-en-oog, maar hulle het nie die syfers nie. Maar Oom Wynand se algemene meriete is seker die beste wat daar is. Dit is hoekom ons by hom ramme koop.”

UNIEKE UITDAGINGS

Dohneboerdery het ook al unieke uitdagings oor die Schoonwinkels se pad gebring. Keer op keer het die belangrikheid van sterk gene duidelik geword.

“Ons het voorheen nogal taamlik nuwe lammers gehad wat nie genoegsame wol op hul pens gehad het nie, wat natuurlik die prys van jou vag beïnvloed.” Die oplossing om van dié ongewenste eienskap ontslae te raak, was eenvoudig: streng ramseleksie.

Jaco vertel: “As ons nuwe ramme gaan koop, het ek spesifiek gekyk vir ramme wat lang penswol het om daai probleem uit te skakel. En só het ons al baie gevorder van waar ons was. Dit is maar net seleksie.”

Jaco deel wysheid van sy pa, wat ook vir opkomende dohneboere van hulp kan wees:

“’n Mens moet altyd onthou dat ’n dohnemerino 70% vleisinkomste en 30% wolinkomste is. Dit beteken jy moet eers fokus op die vleiseienskappe as jy ’n ram selekteer om aan te koop, en dan na die woleienskappe kyk.”

In hierdie opsig is groeitempo en vrugbaarheid veral belangrik, sê Jaco. “Die aantal meerlinge wat jy kry, is eintlik die grootste invloed van die twee. Hoe meer lammers jy het, hoe meer geld kry jy – dis hoekom ons nie ’n ram sal koop wat nie een van ’n meerling is of wat se vrugbaarheid goed lyk nie.”

Jaco se toewyding en ywer as boer spoel ook oor in sy loopbaan as sterkman-atleet.

Hy het vanjaar vir die eerste keer aan die World’s Strongest Man-kompetisie in die VSA gaan deelneem, en het die top tien gehaal, maar moes tydens die eindstryd weens ’n besering onttrek.

Jaco sterk goed aan by die huis en hoop om gou weer deel te neem. Hy vertel dat werk op die plaas die beste oefening is:

“Ek sit altyd die boerdery eerste en sorg dat die werk gedoen word. Die harde werk wat ek op die plaas doen, kom definitief handig te pas in die kompetisies, want dit het my natuurlik sterk gemaak as ’n jong man.”

Boonop baat die hele plaas by Jaco se uitsonderlike krag as die implemente nie naby is nie…

“Daar was een keer ’n 500 kg-massasak wat geskuif moes word, waarvoor hulle die trekker van ’n ander plaas af wou laat kom,” vertel hy. “En toe het ek dit sommer uit die pad uit geskuif!”

Images: Swartsdam Plaas

Wynand du Toit

  082 550 1242
  028 425 1625
  wynand@suidplaasdohnes.co.za
  Posbus 4, Protem, 7281
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes

Wynand du Toit

  082 550 1242
  028 425 1625
  wynand@suidplaasdohnes.co.za
  Posbus 4, Protem, 7281
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes