Van krag tot krag: Ontmoet Pieter Groenewald, Suidplaas se nuwe veldbeampte met ’n passie vir die bedryf
DOHNE MERINO, BOERDERY | Maart 25, 2024
Die Januarie-veiling is altyd ’n hoogtepunt op die Suidplaas-kalender, en vanjaar het ons ook die kans gekry om ’n nuwe hoofstuk te begin.
Dit was die eerste veiling sedert Stephan van der Westhuizen, voormalige OVK stoet-adviseur en dekadeslange vriend van Suidplaas, se aftrede.
Stephan se afwesigheid laat ’n groot leemte by Suidplaas, maar die 31-jarige Pieter Groenewald het ywerig die leisels oorgeneem.
Pieter het voorheen Stephan se hande gesterk, maar vanjaar was die eerste keer dat hy self aan stuur van sake was op Suidplaas.
“Dis vir my ’n groot voorreg om by so ’n suksesvolle stoet betrokke te wees,” sê Pieter. “Oom Stephan het alles in so ’n goeie plek vir my gelos dat dit net ’n plesier is om daarmee te kan werk. Sy ervaring kan ’n mens nie koop nie. Om by hom te kon leer – en steeds by hom te leer – is ’n ongelooflike voorreg.”
voorliefde vir die stoetbedryf
Pieter is ’n boorling van die Rûens en onthou sy kinderjare op Rietfontein – ’n plaas naby Protem, net ’n hanetree weg van Klipbankskloof.
“Ek het altyd geweet van oom Wynand, en sy kinders was ook net ’n paar jaar jonger as ek op laerskool. Maar nou dat ons paaie professioneel gekruis het, is dit net ’n plesier om met hom te werk,” vertel Pieter. “Die manier hoe hy en oom Stephan al die jare saamgewerk het, is ook iets om na op te kyk – dis hoekom hulle ’n wenresep gehad het. Ek hoop dis wat ons vorentoe ook kan doen.”
Pieter het tydens sy hoërskooljare aan Paarl Gimnasium besef sy hunkering na die plaas roep hom terug na die landbouwêreld. Ná matriek het hy sy opleiding by Grootfontein Landboukollege voortgesit, waarna hy vir drie jaar onder BKB in die Moorreesburg-distrik gewerk het. Daarna was hy ook vir drie jaar by Veekos SA werksaam.
“Ek het ’n besondere passie vir die teelbedryf van my Engelse familie, aan my ma se kant, geërf,” vertel hy. “My oupa was diep in die skaapbedryf in die Karoo, en hy is laterjare deur Graham Beck aangestel om te gaan resiesperde teel op Robertson.”
Dié voorliefde vir die stoetbedryf het Pieter ook teruggeroep Overberg toe. Toe ’n geleentheid by OVK hom twee jaar terug voordoen, het Pieter geweet dis waar hy moet wees. Sedertdien is hy en sy vrou, Zahnri, gelukkig op Bredasdorp.
As tegniese veldbeampte, moet Pieter verseker dat die skape in die veld die regte wol lewer wat die kopers in Gqeberha eindelik wil aanskaf.
“Dit behels die alledaagse klassering van skape, en om nou met stoet- en kuddeboere saam te werk,” sê hy. “Só weet ek watter tipe skaap die beste by ’n bepaalde kudde sal pas, en wat om aan te beveel as dit by koop kom om genetiese vooruitgang te verseker.”
Sy tyd by OVK het Pieter al geleer hoe belangrik dit is om altyd aan rand en sent te dink as dit by diere kom. “Jy moenie na ’n Dohneskaap kyk volgens waarvan jý hou nie. Jy moet in alle opsigte kyk na hoe die skaap vir jou die meeste geld gaan maak,” verduidelik hy. “Dit help nie die ooi lyk vir jou baie mooi, maar sy maak nie geld nie.”
Pieter glo ook dat hy nie hoef te verander wat sy voorgangers reeds goed gedoen het nie. “Dit wat nog deur al die jare gewerk het, werk maar nog steeds. Ek sal seker soms ’n ander aanslag hê, maar my grootste mikpunt is om te kan voortbou op die sukses wat die mense voor my reeds gehad het.”
Die Suidplaas-span wens Pieter alle sterkte toe in sy rol en met sy nuwe verantwoordelikhede. Wynand sê: “Ek ken Pieter al lank, maar sien nou uit daarna om ’n professionele pad met hom te stap en hom as vennoot in die Suidplaas-naam te leer ken. Hy het hom in Januarie uitstekend van sy taak gekwyt en bewys dat hy die regte man vir die werk is.”
Wynand du Toit
082 550 1242
028 425 1625
wynand@suidplaasdohnes.co.za
Posbus 4, Protem, 7281
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes
Wynand du Toit
082 550 1242
028 425 1625
wynand@suidplaasdohnes.co.za
Posbus 4, Protem, 7281
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes
@SuidplaasDohnes