PLANTTYD OP SUIDPLAAS: DIE IMPAK VAN DIE OEKRAÏNE-KONFLIK OP SA-BOERE

DOHNE-MERINO, FARMING,  PLANTING  |  MAY 6, 2022

Midde-in die plantseisoen kyk ons hoe koringverbouing op Suidplaas geraak word deur die landboubedryf se verhoogde insetkostes.

Die impak van die voortslepende oorlog in Oekraïne word wêreldwyd gevoel – selfs deur die boere aan die suidpunt van Afrika.

Vlakkloof se graanboer Niël Giliomee, wat saam met sy pa Daniel verantwoordelik is vir planttyd op Suidplaas, sê dat die toename in insetkostes en produkpryse egter ook nuwe geleenthede bied:

“Alhoewel baie boere op hierdie stadium bekommerd mag wees oor die marges wat verklein, is dit belangrik om in ag te neem dat ’n verhoogde omset, selfs met kleiner marges, steeds ’n groter netto wins kan bied. Boere moet versigtig wees om weg te skram van hoër insetkostes en dit eerder as ’n geleentheid sien, aangesien verhoogde omset meer voordele bied as bloot groter netto wins.”

Geleenthede vir Suid-Afrikaanse graanboere 

Volgens Niël is Rusland en Oekraïne verantwoordelik vir 15% van die wêreld se koring- en mielieproduksie, sowel as 60% van alle sonneblomolie-uitvoere. Sedert die uitbreek van die oorlog tussen dié lande, het graanpryse aansienlik gestyg.  

Die impak van ontwrigte uitvoere in Rusland en Oekraïne beïnvloed ook ons plaaslike graanmark, aangesien Suid-Afrika veral baie koring vanaf dié lande invoer. Boonop speel die internasionale sanksies wat teen Rusland ingestel is en die verhoogde koste van versekering op vragskepe ook ’n rol.

Niel sê: ““Op hierdie stadium dui alle makro ekonomiese faktore dat graanpryse moet volhou indien nie nog toeneem nie.”

Oliepryse behoort om weer te daal.

Alhoewel oliepryse ook aanvanklik skerp gestyg het, verwag hy dat dit weer stelselmatig sal terugkeer na ’n redelike vlak vanweë ’n oormaat beskikbaarheid: “Politiese agendas speel wêreldwyd ’n groter rol op die prys van olie as normale vraag en aanbod, en wanneer die prys van olie vir té lank bo ’n kritieke punt verhandel, is dit vir die oorweldigende meerderheid nadelig.”

Niël herinner ook dat die weer waarskynlik die belangrikste faktor is wat boere se sukses hierdie seisoen sal bepaal, maar dat die vooruitsigte wel belowend lyk.

“Alles in ag genome, is my vooruitsig ’n netto positief en sien ek geen rede vir graanboere om nie optimisities te wees oor die seisoen wat voorlê nie,” sê hy.

Volgens Suidplaas Dohnes se eienaar, Wynand du Toit, is hoër insetkostes ook van toepassing op veeboere, veral aangesien veevoerkostes gestyg het. Tog bly Wynand positief oor 2022. Soos Niël glo hy ook dat die weer vooruitsigte goed lyk en dat dit gaan lei tot goeie voeding vir die Suidplaas Dohnes gedurende die koue winter maande.

 

Tog is insetkoste hoër as normaalweg.

Hoekom?  

Die uitdagings wat die internasionale landboumark nou in die gesig staar, vind hoofsaaklik neerslag in die eksponensiële styging in Suid-Afrikaanse boere se insetkostes – veral vir diesel, olie en kunsmis.

Volgens ’n verslag van GraanSA is Rusland die naasgrootste produsent van ammoniak, ureum en kaliumkarbonaat (potas), asook die vyfde grootste produsent van verwerkte fosfate, ter wêreld. Rusland voorsien ook aan ongeveer een derde van Europa se aardgasbehoeftes, wat die produksie van stikstofkunsmis beïnvloed.

Suid-Afrika is swaar afhanklik van die buitelandse kunsmismark, aangesien al ons kaliumkunsmis, sowel as 60%-70% van ons stikstofkunsmis, ingevoer word – baie hiervan vanaf die Swartsee-gebied.

Gevolglik het plaaslike kunsmispryse vanaf Maart 2021 tot Maart 2022 drasties gestyg. Volgens GraanSA het die randwaarde per ton vir verskillende kunsmissoorte in dié tydperk tussen 73.2% en 134.6% toegeneem.

Niël sê: “Kunsmis pryse is baie kommerwekkend. Pryse blyk om vir die nabye toekoms relatief duur te bly.”

BRONNE

Graan SA se landbou-chemiese verslag vir Maart 2022

Departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se “South African Fertilizers Market Analysis Report 2020

📸 Jan-Hendrik Human, Adowa

Wynand du Toit

  082 550 1242
  028 425 1625
  wynand@suidplaasdohnes.co.za
  Posbus 4, Protem, 7281
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes

Wynand du Toit

  082 550 1242
  028 425 1625
  wynand@suidplaasdohnes.co.za
  Posbus 4, Protem, 7281
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes
  @SuidplaasDohnes